Tuesday, July 28, 2009

Touch: Stories of Contact by South African Writers

TOUCH : STORIES OF CONTACT BY SOUTH AFRICAN WRITERS
Karina Magdalena Szczurek (Editor)
Zebra press, Cape Town. (Hardcover, 226 pages, Isbn 09 781 77022 046 1.)

This is a book that looks like it is worth reading – an investigation into the act of touching, through narrative.

Earlier this month Zebra Press published a collection of short stories by twenty-two of South Africa's best writers on the theme of 'touch'.

According to the publishers some of the stories remember lost love or intimate encounters; some deal with everyday and chance meetings that are in some way transformative; others deal with familial interactions; one or two explore the idea of 'staying in touch'.

All royalties will be donated to the Treatment Action Campaign.

Here follows a review of the book by well-known Afrikaans poet Joan Hambidge. It appeared in Die Burger on 27 July 2009.

Sterk kortverhale oor aanraking in al sy vorme vra vir herlees

Waarom moet ’n mens Touch, ’n versameling kortverhale onder redaksie van Karina Magdalena Szczurek, aanskaf?

Aanraking, en die afwesigheid daarvan, bepaal ons lot. Vir my was dit ’n besonderse leeservaring omdat dit die belangrikste aspekte van die kortverhaal bevestig.


Daar is onder meer verhale met ’n verrassende slot of wending:
André P. Brink se “Surprise Visit” is ’n gedronge verhaal waarin die konfrontasie met die moeder in ’n siekeboeg komplekse herinneringe aktiveer. Die misverstand oor die herkenning van die moeder, ’n verhaal gelade met oedipale spanninge, bring interessante per¬spektiewe na vore. Dis vintage-Brink, met fyn toespelings vir verdere naspeur en herlees.

Met die wete van die slot lees jy ook Emma van der Vliet se “Threesome” anders, omdat sy jou verwagting ten slotte ondermyn. Die driemanskap is nie seksueel nie, maar die vrou se ervaring van durende aanraking, naamlik die ervaring van moederskap.

Damon Galgut se “The Crossing” ondersoek die impak van ’n toevallige ontmoeting of aanraking. ’n Vrou op haar wittebrood het ’n gesprek met ’n vreemdeling.

In die terloopsheid van dié aanraking word die spanninge in haar huwelik uitgespeel: wou die man haar dalk besteel? Wat sou gebeur het as sy wel die oorvaart meegemaak het? Tentatiewe ontmoetings, huidige en afgelope verhoudings word saamgebring in haar gemoed. Die aksie, of die afwesigheid daarvan, verander haar lewe.

Die vreemdeling het verdrink. Sy gaan hom nooit weer sien nie, en in dié Katherine Mansfield-verhaal word die leser aan die binnespraak van ’n karakter voorgestel. (Dis ook belangrik dat mans in dié boek met groot gevoeligheid oor intiem vroulike emosies skryf.)

Imraan Coovadia se “File Under: Touch (Avoidance of, Writers); Love (Avoidance of, Writers). (1000 Words)” is ’n metarefleksiewe verhaal wat die struk- tuur van die opdragverhaal onder die loep neem met ’n Duisend en Een Nagte as ’n subteks.

Die verwisselbaarheid van karakters en hul universaliteit kom ter sprake, soos in Maureen Isaacson se verhaal waarin Tolstoi se Anna Karenina ’n interteks en romantiese toespeling is.

Nooit sal reis weer meegemaak word sonder die herinnering aan Ivan Vladislavic se “Lullaby” nie. Wat ’n verhaal! Die atmosfeer wat in dié verhaal opgeroep word, die uitbeelding van ruimte en die onafwendbare slot is so pakkend dat dit ’n mens se kop laat draai.

Die dood van ’n toeris op ’n reisbesoek, en die impak daarvan op sy ervaring van ’n vakansie en van die terugreis, aktiveer die boodskap van weerloosheid. ’n Moeder se wiegelied vir haar baba kry ’n groter, dwingende impak vir al die reisigers op die vlug wat onder hul babakombersies slaap.

Willemien Brümmer se “A Cat of Many Tales” skep besonderse atmosfeer; ’n inbeweeg in die “unheimliche”, nes die verhaal van Alistair Morgan, “Living Arrangements”. Laasgenoemde lewer fel politieke kommentaar op ons huidige situasie en die kwessie van haweloosheid.

Fokalisasie en perspektief kom knap aan bod in Michiel Heyns se “Long Perspectives”, waarin die hede en verlede gesinkopeer word.

Die verhaal speel af in ’n skoolbadkamer. Rondom ’n seksuele aanraking met ’n skolier kry die hoofkarakter perspektief op homself en ’n jeugmaat, nou die onderwyser in die skool. Twee wêrelde, twee perspektiewe, wat beklemtoon word deur die hoofkarakter se bril vol vingerafdrukke. (Waarom die voetnoot dat die omstrede gegewe fiktief is? Dis tog onnodig!)

Vanselfsprekend het elke kortverhaalskrywer ’n eie styl, maar in die algemeen is die kort en kragtige segging, die amper poëtiese aanslag, van hierdie subgenre algemeen bekend.

Die tema in dié boek is aanraking in al sy vorme. Die kort, kragtige impak van die kortverhaal waarin ’n situasie of konflik uitgebeeld word, is kenmerkend. Dit is ’n sterk versameling en die meeste verhale tref ’n mens so sekuur dat jy ’n blaaskans moet neem om eers ’n verhaal of vinjet te verteer.

Goeie kortverhale werk soos gedigte: jy lees ’n tweede, derde keer om ’n beeld se effek te verstaan: soos Mary Watson of Susan Mann by uitnemendheid vereis.

Al die verhale is nuut, behalwe vir Nadine Gordimer se bydrae, ’n wonderbaarlike verhaal waarin die leser uiteindelik moet besluit of die man werklik ontrou was. Ons weet egter dat net die vermoede die vrou se verhouding met hom verander het.

Interessant hoe mans (Brink, Johnny Steinberg) oor die moeder skryf. ’n Klein kragtoer is “Your Stop” van Byron Loker. Bekendes en bekroondes, minder bekendes en debutante, lewer boeiend verslag oor menswees: letterlike, simboliese of metafisiese aanraking.

Hoekom is daar net twee Afrikaanse skrywers in vertaling?

Die opbrengs gaan na die Treatment Action Campaign.

(Bronne: An Approach to Literature deur Cleanth Brooks et al. [Prentice Hall, New Jersey, 1975]; Principles of a Story deur Raymond Carver: www.theshortstory.org.uk/downloads/Essay-Carver-3. pdf [oorspronklik in die New York Times Book Review, 1981].)

No comments:

Post a Comment