Tuesday, March 13, 2012

Bewuste belewenisse _ Breingebeure of meer?

Uit Dr Wilhelm Jordaan se rubriek in Die Burger van 13 Maart 2012

"Nou die aand in die klas sê-vra ’n nagraadse student: “Al ons gepraat oor vryheid van keuse is praatjies vir die vaak, nè? Dis tog duidelik alles wat jy is, word oplaas deur jou brein bepaal.”

Die student beroep hom op onder andere ’n Duitse breinnavorser, Andreas Bartels, van ’n navorsingsinstituut in Tübingen. Dié reken die liefde, byvoorbeeld, is bloot ’n biologiese meganisme en dat ons binnekort seksuele aantrekkingskrag tussen mense chemies sal kan opwek en reguleer. Proewe met diere bevestig dié moontlikheid, sê Bartels. Wat Bartels beweer, is deel van ’n groeiende “neuro-kultuur” wat reken breinkennis kan nou reeds doeltreffend gebruik word om mense se belewenisse en gedrag te bepaal – volgens breinkarterings wat gegrond is op tegnieke soos MRI-, fMRI-, PET- en CAT-skanderings. Die vertrekpunt is dat jou denke, besluite, emosies en gedrag bloot die som van elektriese en chemiese gebeure in die brein is.

Daar is egter breinnavorsers en -kenners, soos die Amerikaner Richard Restak en die Brit Susan Greenfield, wat teen dié “neuro-kultuur” protesteer en tot versigtigheid maan.

Hulle sê ’n behoorlike neurowetenskap kan nie in die isolasie van laboratoriumproewe geskied nie. Weens die ingewikkelde samehang van liggaam (brein) en gees (bewussyn en belewenis) moet die sosiale, kulturele en sielkundige konteks waarbinne die breingebeure plaasvind, verreken word.

Dié samehang behels byvoorbeeld dat ons bewuste belewenisse – al word dit deur elektrochemiese aktiwiteit en oordragstowwe in die brein bemiddel – méér en ánders as breingebeure is; dat oomblikke van intense bewussyn op sigself die breingebeure wysig en selfs nuwe patrone kan skep. Dit sê ’n mens word mens in die volheid van jou belewenisse; en al word hulle elektrochemies “in stand gehou”, is die belewenisse terselfdertyd méér en ánders as breinaktiwiteit en -prosesse.

Lucille Day, ’n neurochemikus, bioloog én digter, beleef die “meer as” van liefhê as ’n “osmose” tussen man en vrou wat sy “sien gebeur” as sy deur ’n elektronmikroskoop kyk na die eenvoud van senuselle wat “ontmoet”. En dan, op die vlak van belewenis, is daar niks meer te verklaar nie. Al wat is, is die gebabbel van die liefde se vreemde tale. Daaruit kom ’n vers:

“flowing inward, they move/toward each other/and when they finally meet,/melding together, cell by cell,/there is no explanation:/they know who they are./I can almost hear them/yammering in strange tongues.”

Dié “méér en ánders” geld in beginsel ook elke ander kosbare menslike belewenis: ’n spirituele ervaring, ’n oomblik van verwondering, ’n poëtiese insig, die bekoring van ’n woordklank, musiek wat ’n katedraal vul, die gegiggel van kinders wat in bome speel, die aanskouing van skoonheid en ’n vredevolle sterwensoomblik... "

No comments:

Post a Comment